Engels

Skoolgeriewe

Die skool is besonder bevoorreg om te kan spog met ʼn groot verskeidenheid geriewe van hoë gehalte.

Die ouditorium bied plek vir 750 mense en is toegerus met ʼn uitstekende klank- en beligtingstelsel. Kunstenaars tree gereeld op in hierdie saal en is deur die bank beïndruk met die geriewe.

Ons spog verder met drie rekenaarlaboratoriums wat elke derde jaar ten volle gemoderniseer word.

Ons navorsingsentrum is ʼn nuwe toevoeging tot ons akademiese geriewe. Hier kan leerders middae na skool take navors deur die elektroniese media, tydskrifte, koerante en naslaanwerke te raadpleeg. Fotokopieermasjiene en skandeerders is beskikbaar en take kan hier ook gedruk en gebind word.

Die skool is verder toegerus met ʼn tegnologielaboratorium, huishoudkundelaboratorium en verskeie biologie- en wetenskaplaboratoriums. Ons spog ook met ʼn goed toegeruste musiekblok waar leerders in verskeie instrumente onderrig word.

Ons beskik oor die volgende sportgeriewe: vier tennisbane, twee hokkievelde, ses netbalbane, vier rugbyvelde, twee krieketvelde, vyf krieketnette, ʼn swembad en ʼn atletiekbaan. Daar is verder ook twee klubhuise vir die verskillende sportsoorte beskikbaar.