JAM
JAM (Jesus and Me - HSD se VCSV) is die grootste organisasie in Hoërskool Durbanville. Dit is ook die enigste organisasie in Hoërskool Durbanville wat werklik oop is vir een en elkeen. Jy hoef nie vinnig, sterk, mooi, syferslim of woordvaardig te wees om daaraan deel te hê nie. Vir elkeen wat by ons deur aanklop, sal oopgemaak word; as jy by ons kom soek, sal jy iets vind en ons glo dat dit sal waarde tot jou lewe toevoeg vir altyd.
JAM se fokus is op Jesus en om jongmense te help om met Hom te "connect". Daarom het ons elke Maandag kringe waar ons gesels oor Jesus, mekaar help om saam met Hom te lewe elke oomblik van die dag en te getuig oor wat Hy vir ons doen. Ons bid ook Woensdae op die rugbyveld vir ons skool en dat die Here ons sal seën, beskerm en Sy koninkryk sal laat kom... en Hy luister! Ongeveer twee maal per kwartaal het ons 'n koffiekroeg waar almal in die skool saam met die Here kan loof met luide musiek en kan deel in Sy liefde met koffie en eetgoed. Ons het ook 'n kamp waar ons vreemde en prettige aktiwiteite aanpak, bloot vir die lekker, maar ook om ander JAMmers beter te leer ken en weer eens met Jesus te "connect".
Ons weet ook dat Jesus ons uitnooi om saam met Hom die wêreld in te gaan waar Hy besig is om dit verander. Jaarliks het ons die JAM-week waarin ons geld insamel vir 'n liefdadigheidsorganisasie sodat hulle hul werk vir God se nuwe wêreld makliker kan doen. In die verlede het ons al 40 uur gevas vir vigs-wesies en 'n deurnagwaak vir Huis Andries Olivier gehad.
Die kringleiers is die mense wat sorg dat alles gebeur. Vir 2010 het ons 28 leerders tussen graad 10 & 12 wat help om dit alles moontlik te maak. In die derde kwartaal is daar 'n streng keuringsproses wat 'n oorlewingskamp insluit vir elkeen wat 'n kringleier wil wees. Ons kies dan ook uit die kringleiers ses bestuurslede wat leiding neem met die beplanning en aanbieding van al JAM se aktiwiteite. Die kringleiers vergader elke week om saam te bid, mekaar te ondersteun en benodigdhede te kry by die JAM-personeel wat bestaan uit onderwysers, asook predikante en jeugwerkers van kerke uit die omgewing.
AM is verseker die plek om te wees om die Here beter te leer ken en om saam met Hom ? verskil te maak in ons stukkende wêreld. |