Afrikaans Dutch English French German Italian Portuguese Russian Spanish
19 | 05 | 2012

Sport aangebied

Sport bied die geleentheid vir fisieke oefening, karakterontwikkeling en sosiale interaksie. 80% van leerders neem deel aan winter- sowel as somersport.

Rugby

Die tien rugbyspanne (twee o.14-spanne; twee o.15-spanne; twee o.16-spanne en vier o.19-spanne) wat almal in die premierliga deelneem, word deur bekwame persone afgerig. Ons jaarlikse toernooie sluit in Oakdale Landbouskool en Paul Roos Gimnasium asook sportdae teen Worcester Gimnasium, Hugenote Hoërskool en Hoërskool Vredenburg in. Hoërskool Durbanville tree ook jaarliks as gasheerskool op vir die o.14-sewestoernooi waaraan 10 topskole in die WP deelneem.

Netbal

Netbalklinieke, asook toernooie, waaronder die Nasionale Top Netbaltoernooi in George word jaarliks tydens vakansies bygewoon. In 2009 het die o.19 A-netbalspan 'n silwer medalje en 'n spoggerige tweede plek verower tydens die Nasionale Top Netbaltoernooi. Puik buite-afrigters, soos Joana Winterbach (vir die afgelope tien jaar die afrigter van 'n WP-span en vanjaar (2011) se O.17 Proteaspan wat na Singapoer toer) help om ons netbal op 'n hoë standaard te hou. Hoërskool Durbanville het die afgelope paar jaar reeds verskeie WP- & Weskaap-netbalspelers en twee nasionale spelers opgelewer. In 2008 was ons o.19 A-span die WP Skole-uitklopkampioene en het derde in die Nasionale Uitklopkompetisie geëindig. In 2009 het die Durbies as die WP-Kampioene 'n 2de posisie in die Wes-Kaap uitdunne tydens die Nasionale Uitklopkompetisie verower. Gedurende 2010 het al 12 netbalspanne hard gewerk en goed gevaar.

Krieket

Krieket is onder leiding van Mnr Nicolaas Minnie wat in besit is van 'n KSA vlak III afrigtingsertifikaat.


Daar is tans ses seunskrieketspanne wat groot sukses in verskillende ligas in die WP behaal. Die skool beskik oor vyf krieketnette, 'n boulmasjien, twee kolfblaaie met gesigskerms, ander nodige toerusting, asook binnenshuise krieketnette.

Hoërskool Durbanville het WP-dogterskrieket laat herlewe. Ons het tans 'n o.19-span wat ingeskryf is vir die W.P.-liga. Die skool het reeds 'n WP-speler opgelewer. In 2009 het die dogterskrieketspan in die Uitklop-finaal gespeel

Hokkie

ding tans jaarliks mee in die interskole teen Hoërskool Stellenberg, in toernooie soos, die Hoërskool York in George Hoërskool Swartland, Vredenburg en Hugenote Hoërskool asook ligawedstryde. Die dogtershokkiespan speel ook in die Astro-liga.

Die Dogtershokkie eerste span het reeds drie keer oorsee getoer en gaan 2011 'n toernooi tydens die April vakansie op Bloemfontein bywoon.

Ons O.19 A Seunshokkiespan het in 2010 die WP se uitklopkompetisie (vir grasbane) gewen. Die O.19 Seuns toer DV in Junie 2011 na Argentinië.


Atletiek

Interhuis en Interskole-atletiekbyeenkomste word elke jaar gehou. Ons uitblinkers op die atletiekveld neem deel aan die Noord-Sone- ,WP- Wes-Kaap- en SA- byeenkomste. In 2010 het 2 atlete aan onderskeidelik die SA Skole- en Klub-Kampioenskapsbyeenkomste deelgeneem en elk ‘n puik derde posisie behaal.

Tweekamp

Vanaf 2010 word tweekamp as 'n amptelike skoolsport beoefen. Die afgelope 3 jaar het 2 van ons atlete op internasionale vlak medaljes verower. Ligawedlope vind op Woensdae plaas.

Landloop

Landloop word gedurende die winterseisoen aangebied met ligawedlope op Woensdae.

Tennis

Daar is agt tennisspanne wat elkeen in sy eie liga speel. Die o.15-spanne (een seun- en een dogterspan) kan na die eerste kwartaal in die seniorspanne opgeneem word. Daar is drie seun- en drie dogterspanne in die seniorliga wat elk uit vier spelers bestaan. Vanaf 2010 beskik die skool oor 'n tennisakademie met 'n professionele afrigter wat die eerste spanne sal afrig.

Gholf

Die skool het twee gholfspanne wat in die WP-Skolegholfunie ingeskryf is. In 1999 en 2000 het ons twee WP-spelers opgelewer, en ons val onder die top drie gholfskole in die Noordelike Voorstede. Vir die afgelope twee jaar het ons spelers in die Boland-span gehad. Gholf word danksy die somerliga dwarsdeur die jaar beoefen.

Swem

Swem word aangebied gedurende die eerste kwartaal en vierde kwartaal. Afrigting word gedoen deur ʼn professionele swemafrigter (Tanith van Meyeren), wat reeds uitstekende resultate behaal het met die skool se swemspan. Die skool is geaffilieer by die WP skole-swemunie en neem deel aan gala’s van verskillende formate. Die gala's vind gewoonlik plaas op Donderdae. Oefeninge vind plaas op Dinsdae, Woensdae en Donderdae. Vir navrae skakel mnr. A. Meyer, die swemkoördineerder.