Orkeste & "Drumline"
Verantwoordelike persoon: me Suretha Theron
Ons orkeste blink gereeld uit by eisteddfods, orkesfeeste en kompetisies vir blaasorkeste. Leerders wat musiekinstrumente bespeel kan hul talente hier uitleef.
-
Ons gewilde jazzorkes bestaan uit ongeveer 12 spelers (saxofone, klarinette, trompette, trombone, baskitaar, klavier en tromme).
-
Daar is twee blaasorkeste – ʼn junior en senior orkes. Laasgenoemde bestaan uit ongeveer 25 lede wat die onderskeie blaasinstrumente wat by die skool aangebied word, asook slagwerkinstrumente, speel.
-
Die nuutgestigte “drumline” gaan vir seker vorentoe vir groot opwinding en vermaak sorg!
Hoërskool Durbanville Blaasorkeste
Hoërskool Durbanville spog met twee blaasorkeste, die Junior Blaasorkes en die Senior Blaasorkes, asook ‘n gewilde jazzorkes en ‘n “drumline”. Die musiek instrumente wat bespeel word in die orkeste word aan leerders in onderlinge, weeklikse lesse onderrig, en sluit die volgende in:
Dwarsfluit (onderrig deur Chrisna Esterhuyse);
Klarinet, alt saxofoon en tenoor saxofoon (onderrig deur Suretha Theron);
Trompet, Franse horing, tromboon, eufonium en tuba (onderrig deur Madeline Groenewald); en Perkussie (onderrig deur John Pringle).
Die Junior Blaasorkes is tans onder leiding van Madeline Groenewald. Hierdie orkes verskaf ‘n leerbasis in orkes samespel vir beginner musiekleerders. Die orkes reperteer eenmaal per week en na ‘n jaar van deelname vorder die leerders na die Senior Blaasorkes. Die Senior Blaasorkes is onderleiding van Suretha Theron met administrasie behartig deur Chrisna Esterhuyse. Die orkes reperteer elke Maandagaand in die Hoërskool Ouditorium.
Die Hoërskool Durbanville Blaasorkes tree gereeld by feeste en ander belangrike geleenthede op en is ook aktief betrokke by die musiekaktiwiteite van die skool. Die orkes het ‘n trotse geskiedenis van prestasies. Dit is in 1979 gestig deur mnr. Agustino Teixeira en die destydse skoolhoof, dr. Orlandi Firmani, en was die eerste skoleblaasorkes in die Noordelike voorstede van Kaapstad. Sedert die orkes se bestaan het hulle verskeie kompetisies en eisteddfods gewen, waaronder die Roodepoort Eisteddfod, die Stellenbosch Eisteddfod en die Tygerberg Internasionale Eisteddfod. In 2008 het die Hoërskool Durbanville en die Hoërskool Tygerberg se blaasorkeste vir die duur van die jaar saamgesmelt om die Con Sonore Blaasorkes te vorm. Hierdie gekombineerde orkes is tydens die Empangeni Orkestefees in 2008 aangewys as algehele wenners van die kompetisie.
Die orkes het in die afgelope paar jaar geweldig gegroei vanaf ‘n ledetal van slegs 24 in 2008 tot ‘n ledetal van oor die 55 leerders. In 2009, 2010 en 2011 het die orkes Hoogste Lof verwerf by die Tygerberg Internasionale Eisteddfod en is ook vir die drie jaar agtermekaar as kategorie-wenners aangewys. In 2011 was die Blaasorkes besonder bevoorreg om in die Grand West Arena op te tree tydens die “Backstage Pass High School Jam”. In dieselfde jaar het die orkes na Waterkloof, Pretoria getoer om deel te neem aan die Suid-Afrikaanse konsert- en marsorkeste kampioenskappe. Vir hierdie nasionale kompetisie is die jazzorkes aangewys as die beste ensemble en die Blaasorkes het tweede plek verwerf in die land, met ‘n verdere prestasie van 95% vir algehele netheid en disipline.
Behalwe vir die trotse musikale prestasies van die orkes, verskaf die groep ook ‘n wonderlike sosiale platform vir leerders. Dit is ‘n groep waar leerders nie net musiek leer nie, maar ook waardevolle eienskappe soos spanbou, geesbou, dissipline en selfvertroue.

Die Junior Blaasorkes. Orkes kamp, Bettiesbaai 2010

Die “Drum Line”. Grand West Arena 2011

Die Blaasorkes o.l.v Suretha Theron. Grand West Arena 2011.

Die Blaasorkes op toer. Johannesburg, Soccer City, 2011.